Letter Liefde

Selfvertroue begin met begrip.

Hans du Plessis

Dagbreek

Toe bars die eerste lig
blink oor die maling van ‘n waterrug
en uit die nuwe aarde spring
plate plat sering.
‘n Groenvlerkduif se roepie drup
oor ghwarriebos en suikerklip.
Die vroeë son kom loop
botterklapper oor die helder more oop;
‘n fisant se voordagfluit
koggel hom uit sy donker lêplek uit.

Hans du Plessis

Meer oor die digter

Hans du Plessis: Digter, Skrywer en Taalkundige

Hans du Plessis was ‘n gerekende Afrikaanse digter, skrywer en akademikus. Ná ses jaar in die onderwys sluit hy in 1972 aan as lektor in Afrikaanse Taalkunde aan die Universiteit van Suid-Afrika. Sy poëtiese bydrae sluit Griekwapsalms en Griekwagedigte in, wat deur Randall Wicomb getoonset en gesing is.

In 1989 word hy die eerste direkteur van die ATKV-Skryfskool, waar hy ‘n belangrike rol speel in die ontwikkeling van Afrikaanse skryfkuns. Hy dien ook as voorsitter van die FAK se Taalkomitee en lewer gereeld rubrieke vir publikasies soos die Potchefstroom Herald. Sy werk weerspieël ‘n diep verbintenis tot die Afrikaanse taal en kultuur.